Arm in die gees …


ARM IN DIE GEES TEENOOR “GO – GETTER EN PUSHERS”

 “Soos borsluise en vlooie op ‘n hond spring so spring bekommernisse en lewenssorge op mense.” So skryf een van ons nuwe digters.

Want ons “default” is om onafhanklik te wees van almal, verkieslik so min as moontlik van God ook. Die hele bemarkingsisteem is daarop ingestel om vir mense vryheid en onafhanklikheid te gee.

Jongmense word geleer om “Go-getters” te word. Soos JB Philips dit stel:  Geseënd is die pushers, want hul kom iewers in die wêreld. Ons is immers in die wêreld nou. Wees ‘n Go-getter en ‘n Pusher en jy sal êrens kom. Word ‘n Idol en ander sal van jou afhanklik wees.

Dit staan lynreg teenoor die 1 ste Seënbede wat leer: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Wie wil as mens die koninkryk beêrwe, as ek die wêreld kan wen.

Wees afhanklik – God afhanklik. Ewald van Rensburg skryf sulke mense dink nie minder oor hulself nie, hul dink net reg oorhulself. Hulle weet hul het God baie nodig, broodnodig.

Met die uittog uit Egipte het God die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn gelei. In Egipte was hul slawe gewees, maar hul was onafhanklik, in die s’n dat hul geweet het dat hul kos verseker was. Hulle het hul eie wingerde, vee, parskuipe, gesaaides, spense en kruike gehad. Sou daar dinge verkeerd loop, was die Farao hul versekerspolis. Hy sou beslis sorg dat hul nie uitsterf nie, want die Israeliete was vir hom baie nodig om as slawe gebruik te word.

In die woestyn moes hul klaarkom met hul daaglikse kwota manna en kwartels. Hulle kon niks gebêre het nie. Dit sou vrot geword het as hulle dit sou durf waag om op te gaar vir die volgende dag. Enigiets wat hul wou bêre sou vrot word en begin om sleg te ruik. As iemand durf oortree, sou almal  weet van hul oortreding, want alles rondom hulle het begin stink van vrot manna en kwartels.

Die Israeliete het letterlik in die aand  gaan slaap en nie geweet waarhul  brood môre vandaan gaan kom nie ? Maar elke oggend het God klokslag vir hulle manna gegee en elke aand klokslag kwartels. Eugene Peterson se “Message” stel dit so pragtig:

“At dusk you will eat meat and at dawn you’ll eat your fill of bread; and you’ll realize that I am God, YOUR God.”  Die Here het hul geleer om op HOM alleen te vertrou.

Eugene Peterson vertaal Mat 5: 3  as volg : “ You’re blessed when you’re at the end of your robe. With less of you there is more of God and his rule. “

Wat beteken dit om op die end van jou tou te wees ? Dit beteken om arm in die gees te wees (Grieks). Dit sou ook kon beteken om arm aan geesteskrag te wees, om ‘n soort gebrokenheid oor myself te hê. Dit beteken om oorweldig te word met emosies van moedeloosheid, hartseer, gebrokenheid en desperaatheid. Eers wanneer jy radeloos en verslae is, leeg van jouself en in totale wanhoop kan jy verstaan wat dit beteken om van God afhanklik te wees. Martin Luther sê ons isbedelaarsvoor God. Wanneer jy vir God kies uit noodweer en nie uit eie keuse nie, weet jy eers hoe nodig, broodnodig het jy vir God.

521480_578526725499763_2118738582_n (1)

Wie so arm word aan homself, dat niks meer van homself / haarself oorbly nie ……. word ‘n Koninkryksburger. Sien jy kans om so arm te word ?

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van NG kerk Adelaide)

1 thoughts on “Arm in die gees …

Lewer kommentaar